Jou behoeftes is die fokuspunt van die ontwerp van die aftreehuise op die Euphoria Gholf en Leefstyllandgoed.
Al die leefareas en slaapkamers front Noord, vertrekke is ruim, elke huis het minstens 2 slaapkamers en 2 badkamers, daar is genoeg ingeboude kaste in beide die kombuis en die slaapkamers, ‘n opwaskamer is ‘n opsie, parkeringsopsies is uiters buigsaam, “groen” bou eienskappe soos ‘n reënwatertenk, gryswaterstelsel, LED-ligte, gasstowe, en sonpanele vir die geyser is standaard ingesluit, en daar is ‘n keuse van 400, 700 en 1000 vkm voltitel erwe.
Skakel vir Cato Coetzee op 072 027 4154 om ‘n afspraak te maak om die oord te besigtig.
Dit het net minder as 3 maande geneem om die eerste aftreehuis op die Euphoria Gholf en Leefstyl Landgoed te voltooi. Bouwerk het op 5 Julie begin en is afgehandel op 23 September.
Die huis is gebou op ‘n aangepaste D2-plan, met die keuse van ‘n enkel motorhuis met ekstra werkspasie en ‘n vergrootte stoep. Die eienaars het skuifdeure in die leefkamer en die hoofslaapkamer as opsionele ekstra items bygevoeg. Soos met al ons nuwe huise, was die teëls, ingeboude kaste, en werksblaaie hulle eie keuses.
Vergewe my as ek sentimenteel klink, maar ek mis die dae toe ek klein was en ek by my Oupa en Ouma op die plaas kon gaan kuier. My Ouma het ‘n vrugteboord gehad wat skrik vir niks. Afhangende van die seisoen kon ons al die soorte sitrus pluk – naartjies, lemoene, pomelo’s, suurlemoene en selfs die klein kumquatte!
Lemoene het ons op verskillende maniere geskil – byt sommer so ‘n bitter hap uit en begin hom werk met die vingers totdat dit so wit onder jou naels sit, of vra vir Oupa om vir jou die twee ente af te sny en sulke netjiese snye oor die boepens te maak dat jy die skil in repe kan aftrek. Die grootmense het sommer die hele lemoen in skywe gesny en dit so van die skil af geëet – nie my gunsteling metode nie.
Die naartjies was soet en het maklik geskil. Jy moes mooi pasop dat jy nie te veel daarvan eet en ‘n omgekrapte maag kry nie. Pomelo’s en suurlemoene het ek maar vermy – eers later in die lewe agtergekom dit is ook lekker. Die kumquatte met hulle soet skilletjies en suur binnekante wat jou mond ‘n pruim trek, kon maklik in ‘n broeksak pas vir later se eet. Net jammer partykeer vergeet jy daarvan as jy boomklim of iets en dan is dit so ‘n pappery in jou sak wat jy liefs self moet uitspoel sodat Ouma nie nukkerig raak nie.
Vir die vyeboom moes ons sulke blink repies papier sny en in die boom hang om die voëls weg te hou. ‘n Ryp vy is ‘n wondersoete ding en vyekonfyt is vandag nog een van my bederwe.
Die geur van ‘n ryp grenadilla en die helder oranje binnekant van ‘n ryp papaja met sy horde swart pitjies, die koel lyf van ‘n geurige spanspek, die helderrooi van ‘n wegkruip-aarbei wat jy onder die blaartjies uitpluk – dit alles is vir my liewe herinneringe van my Ouma se werf.
Saam op die plaas, skaars 20 meter van my Ouma se huis af, het my oudste Oom-hulle gewoon. Op hulle werf was die res van die vrugte, waarvan my Tannie party natgelei het met wasgoedwater uit haar dubbelbalie-wasmasjien. Vakansietye het ek en my nefies en niggies daar ‘n hond uit ‘n bos uit gespeel. Elke keer as die wasgoedwater in die voortjie afspoel, het ons rivier afgekom en ons dorp waar ons met ons karretjies gespeel het, het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.
Daar was 3 soorte druiwe wat met daardie water natgelei is – sultanas, glippertjies en sulke swart druiwe waarvan ek nie die naam kan onthou nie. Verder af was daar ‘n kweperlaning, ‘n vrug wat baie mense deesdae nie meer ken nie. Nog ‘n bietjie verder was die granaatlaning en lank voor dit bekend geword het as ‘n supervrug het ons al daarvan geëet tot ons moeg was, want dit is nou ‘n vrug wat jou laat werk vir jou genot.
As ons moeg geraak het vir karretjies speel, het ons in die moerbeibome geklim en moerbeie geëet. Die bome was so groot dat ons met die dik takke van die een boom na die ander kon oorklim, altyd met die vooraf waarskuwing dat as ons sou uitval, kry ons nog ‘n pakslae ook! Die moerbeie kon ons nie gewen kry nie, daar was net te veel. Dit moes dan gepluk word vir lekker konfyt en na die tyd sit jy vir ‘n lang ruk met groen en rooi moerbeie en skrop om die pers vlekke van jou voete en lyf af te kry.
Die laaste vrugte, wat buite my Ouma se erf gestaan het en wat ons baie versigtig benader het, was die Turksvye. Jy pluk hulle met ‘n lang stok waaraan daar ‘n konfytblikkie vasgemaak is en dan is dit omtrent ‘n operasie om nie van daardie fyn dorinkies in jou hande te kry nie. As hy uiteindelik geskil is en tyd gehad het om in die yskas koel te raak, is dit vir my een van die lekkerste subtiele smake wat daar is.
Dit is vir my ondenkbaar dat my kinders se kinders nie die geleentheid gaan hê om dieselfde ervaring te hê nie. Dat hulle dalk net al hulle vrugte uit winkels gekoop gaan kry en nooit self iets van ‘n boom af gaan pluk nie. Die stadslewe maak net nie meer daarvoor voorsiening nie en as mens in ‘n aftree oord intrek is die kans nog skraler dat jy vir hulle enige iets soos dit kan bied.
Of dit nou die regte redes is, sal ek nie kan sê nie, maar dit is wat my laat besluit het om die Euphoria aftree oord so te ontwerp en ontwikkel dat die kleinkinders dit daar kan beleef. Dit is platteland, ons het die spasie, ons het die water en ons gaan die mense hê wat dieselfde oor die dinge dink. Mense wat weet wat die waarde is van kontak met die aarde en sy vrugte, wat weet dit is nodig om partymaal bietjie die klein skermpies weg te bêre en in die grond te speel. Dit is vir hulle wat ons Euphoria bou.