Euphoria aftree-oord bied ‘n ongeëwenaarde leefstyl in die Waterberg Bosveld. Die voltitel oord word ontwikkel op ‘n bestaande gholf-landgoed met ‘n gevestigde wêreldklas gholfbaan, luukse klubhuis en verwante fasiliteite. Boonop is daar ‘n waterpark met swembaddens, glybane en ‘n kinderspeelarea. Die unieke Euphoria kabelspoor vat jou na ‘n restaurant op ons berg met ‘n eindelose uitsig oor die Springbokvlakte. Vir daardie ekstra bederf kan jy ons hydro spa besoek vir ‘n reeks behandelinge.
Al hierdie fasiliteite is beskikbaar vir ons inwoners en hulle gaste, maar dit is nog net die begin. Ry rond op die 684 ha landgoed en jy loop ‘n verskeidenheid van wildsoorte raak wat hier tuisgaan. Vat jou bergfiets en volg een van ons roetes wat oor 25 km strek of trek jou stapskoene aan vir ‘n bietjie stadiger pas. Die Bosveld natuurskoon en groot verskeidenheid voëls, is ‘n lafenis vir die siel.
In die aftree oord ontwikkel ons ‘n gesondheidsentrum wat fokus op voorkomende gesondheidsorg, maar ook voorsiening maak vir diegene met verdere sorgbehoeftes. Die verhitte swembad is dubbeldoelig vir oefening en ontspanning, met groot glas- en aluminiumskuifdeure wat wyd kan oopmaak as die weer dit toelaat, maar die koue kan uithou wanneer dit nodig is.
By die hoofgebou is daar ook ‘n koffiewinkel, haarsalon, geriefswinkel, posbusse en ‘n karwas. Die eetsaal en kombuis, met ‘n kuierstoep en lekker gemeenskaplike braai-areas en jukskeibane, word by die tweede hoofgebou opgerig.
Het jou kleinkinders al vars vrugte van die boom af geëet? Of wortels uit die grond getrek, afgespoel en opgesny om te kook of te rasper vir ‘n slaai? Ons wil vir hulle die geleentheid skep by Euphoria. Elke huis kry 3 bome, waarvan minstens een (of twee) ‘n vrugteboom moet wees wat aan die straatkant geplant word. Gemeenskaplike groentetuine en blomtuine word beplan, wat deur die inwoners in stand gehou word, asook boorde waar neutbome en ander vrugte geplant word.
Troeteldiere is welkom binne sekere algemene reëls, soos dat hulle aan leibande moet wees wanneer hulle nie by die huis is nie. Jy kan met jou hondekinders of mensekinders stap tot by ‘n speelarea of mooi rusplek met ‘n waterpunt en van daar af weer verder stap.
Jy kan veilig voel op ons landgoed en in ons oord. Daar is ‘n elektriese grensheining wat gepatrolleer word, ‘n tweede heining met nagvisie-kameras en beligting, dubbele toegangsbeheer, draagbare noodsenders en gewapende reaksie.
Al ons siviele infrastruktuur is reeds in plek – paaie, elektrisiteit, water, riool, straatligte en stormwaterhantering. Erwe kan dadelik in ‘n koper se naam oorgedra word en na ‘n proses waar ons saam die huisplan finaliseer en die nodige Munisipale goedkeurings verkry het, kan bouwerk begin. Weens die Covid staat van inperking moes konstruksie uitgestel word van die aanvanklike beplande datums, maar die eerste huis is in September 2021 voltooi en die volgende skouhuis in die oord is in aanbou. Die eerste inwoners kan in die eerste kwartaal van 2022 intrek.
Tree af op die gholf-landgoed
Die aftree oord lewer ook dienste aan die res van die gholf-landgoed. Dit skep die geleentheid om ‘n aftree-huis op ‘n erf te bou wat op die gholfbaan of in die bos uitkyk terwyl jy steeds al die voordele van die aftree oord geniet.
Die gemiddelde erf is 1000 vkm en huise van 150 vkm tot 600 vkm word toegelaat. Dit is ideaal vir diegene wat nog nie soveel wil afskaal nie, maar bied ook ‘n verskeidenheid van ander opsies van kleiner huise, wat nie té klein is nie.